14:00 | 2 October

EK WENS, EK WENS met Frank Opperman

14:00 | 2 October
Atterbury Theatre, Pretoria

Tickets for 2 October, 14:00 :

Tickets for 2 October, 18:00 :

Frank Opperman debuteer met Ek wens, ek wens by Atterbury Teater, as deel van Aardklop 2021.

Ek wens, ek wens is ‘n fabelagtige verhaal oor Seb, ‘n lykbesorger wat ‘n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei. Sy lewe is een van roetine en kleinighede, en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie. Tot hy eendag ‘n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens? ‘n Ander werk, ‘n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?

Daarom is  die sprokiesagtige  Ek wens, ek wens veral geskik vir nou. Met hierdie teks en produksie wil ons die publiek juis dít laat doen: vir ’n oomblik weer fokus op dit wat die lewe wonderbaarlik, eerlik, eg en mooi maak. Om ons kinderlike welwillendheid en onskuld weer te vind.

Zirk van den Berg se sprokie vir grootmense is bekroon met die WA Hofmeyer- sowel as die kykNET-Rapport prys.

“Van den Berg se roman is ’n genot om te lees, is met tye verstommend snaaks, en bied – veral nóú – ’n greintjie beskeie hoop.” (Litnet)

 

Philip Rademeyer – notas as skrywer en regisseur:

 

Met my eerste (en tweede, en derde) lees van Zirk van den Berg se boek het hierdie vrae aan my bly krap. Dis veral nóú pertinent, terwyl die wêreld (en veral die kunste) gebuk gaan onder ‘n pandemie wat soveel uitdagings en hartseer meebring. Wat my dadelik opgewonde gemaak het oor hierdie storie is nie net die eenvoudige dog beeldskone manier waarop dit vertel word nie, maar ook die sprokiesagtige betowering wat daarin vasgevang is. Deur die karakters sien ons dat die lewe, al is dit dikwels moeilik of saai, tog ontsettend kosbaar en waardevol is. Dis eindelik ‘n intieme, menslike storie oor hoop, drome en verandering.

Ons is tans besig met repetisies en ons werk daaraan om die storie en die karakters lewe te gee. Ons probeer om met ‘n minimale stel en ‘n fokus op gedetaileerde karakterwerk (en ‘n paar illusies!), die verhaal se betowering vas te vang. Hopelik sal die gehoor sáám wonder waarvoor hulle sal wens as hulle een wens gegun word. En hopelik sal die gehoor saam met Seb (en my en Frank) vir ‘n oomblik weer glo.

‘EK WENS, EK WENS’ met Frank Opperman

Share this event:

Program Info

Met: Frank Opperman
Teksverwerking, ontwerp en regie: Philip Rademeyer, na die roman deur Zirk van den Berg
Verhoogbestuur: Mariska Meyer
Vervaardig deur:  Alexa Strachan en Anna Davel
Aangebied deur: Aardklop Nasionale Kunstefees
Ondersteun deur: NATi, Atterbury Trust en AK21
Ouerbegeleiding: 0/13
Tydsduur: 75 minute

 

Speelvak:

Atterbury Teater
Donderdag 30 September 19:00
Vrydag 1 Oktober 10:00
Saterdag 2 Oktober 14:00 en 18:00
Sondag 3 Oktober 18:00

Alle kaartjies: R220