TRONK MET ‘N D
TRONK MET ‘N D
-
Die popmooi sosiale vlinder Leksie Pieterse (Ignatius van Heerden) word tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die gifmoord op haar ryk vroetelpappie, Bakkies Barnard. In die tronk beland sy in ’n sel met Cruella (André Lötter), Bakkies se weduwee, en die harnekkige Daisy de Melker (Elzabè Zietsman)—wat volgens rekords lankal dood behoort te wees, maar nou die vrouetronk met ’n ysterhand regeer.
Wanneer Leksie ontdek dat haar slinkse prokureur, ’n dubbele lewe lei, begin ’n gevaarlike spel van wraak. Met die hulp van speurder Wihan Beyleveld moet die vroue besluit: hoe vernietig jy ’n man se reputasie—van agter tralies af?
’n Komiese spanningsdrama vol glans, satire en dodelike sjarme.
Gif, glans en geregtigheid: Nuwe Afrikaanse komiese spanningsdrama betower die verhoog.
Met teks deur Braam van der Vyver en regie deur Lihan Pretorius en Johan van der Merwe, bring hierdie gewaagde Afrikaanse produksie ’n unieke mengsel van satire, swart humor en spanningsdrama na die verhoog. Die produksie spog met ’n kragtige rolverdeling: Elzabè Zietsman, Ignatius van Heerden en André Lötter. Kostuumontwerp is deur Madelaine Lötter, wat die wêreld van glans, tronkuniforms en teatrale styl visueel tot lewe bring.
