Frieda van den Heever – Spoorsny

Frieda van den Heever – Spoorsny
-
Wat Laurika Rauch in die sewentigs gedoen het – haar musiek was vir daardie generasie net so anders – dít doen Frieda van den Heever nou met Spoorsny, haar debuutalbum. Verkennend, vernuwend, vars. Dit het die gehore gaande.
Hanlie Retief, Rapport
‘n Album wat jou op reis na binne neem, laat opkom vir asem en help met jou reis om die son, al is dit met geskroeide vlerke. Van den Heever skryf met al haar sintuie. Sy is een van die min mense wat aan skynbaar gewone woorde geestelike waarde kan gee. Of vir mense wat nie so diep wil delf nie, net die plesier verskaf om na lewenswyshede te luister. Sy vang gevoelens vas wat jy graag self sou wou verwoord, maar nie kan nie en daarom leen jy by wat sy sê. Die album is ‘n bron van ervarings van iemand wat weet wat dit is om te leef – liedjies met eerlikheid oor verlange, liefde, verlies, die lewe en die dood, en veral hoop.
Mariana Malan, Die Burger
Kom luister 30 Julie na die musiek op Spoorsny en meer. Frieda van den Heever verweef haar eie songs en ‘n paar van haar gunsteling covers met stories, vertellings en gedigte. Soms tree vir tree en soms deur die klavier bloots te ry, verken sy die landskap van die lewe en die dood en alles tussenin met haar neus en voete. Kom val saam in die pad. Ons gaan so een voet voor die ander op reis na ‘n plek wat jy ken.