MEL BOTES bied aan DIE RIVIER SIMFONIE

MEL BOTES bied aan DIE RIVIER SIMFONIE
-
MEL BOTES VERSKUIF GRENSE MET SY NUUTSTE SIMFONIESE MUSIEKPRODUKSIE – DIE RIVIER SIMFONIE
Die talentvolle sanger, liedjieskrywer, kitaarspeler en komponis Mel Botes wat baanbrekerswerk met sy produksies soos David’s Confession, Flight of the Bird en Pink Floyd: Crazy Diamond gedoen het, verskuif nou weer grense met ʼn splinternuwe oorspronklike en meesterlike simfoniese musiekproduksie Die Rivier Simfonie wat uit agt bewegings bestaan. Die produksie debuteer op Woensdag16 Julie om 20:00 by die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria en vier ook die 100 ste herdenking van Afrikaans. Botes beskryf sy nuutste werk as ʼn kontemporêre werk met klassieke ondertone. “Elemente van onder meer rock, Afrika-style, Noord-Afrika klanke (vandaar die piramides op die ontwerp), ballades, dansmusiek en selfs blues word in die verhoogproduksie verteenwoordig.” Hy het in 2016 reeds begin om Die Rivier Simfonie te konseptualiseer. “Die werk was aanvanklik ʼn opdragwerk deur die Namibiese kunsvereniging, Omaruru. Hulle het gevra om ‘n simfoniese werk oor die droë rivier en die reën en die hele siklus te skryf. My ma is in daardie jaar oorlede en ek het dieselfde jaar in Zürich, Switserland by ʼn vriend gewoon en begin om die eerste en tweede bewegings te komponeer. Ek was baie hartseer oor die verlies van my ma en die eerste note van die werk het net in die sleutel van A-majeur na my toe gekom.” Terug in Suid-Afrika het hy vier bewegings gekomponeer. Gedeeltes van die werk is in September 2016 in die droë bedding van die Omaruru rivier in Namibië saam met die Namibiese Simfonie orkes uitgevoer. “Ons moes die werk aanpas by die spelers wat ons tot ons beskikking gehad het. Die simfonie het op daardie stadium nog nie in die finale voltooide formaat gedebuteer nie.” Botes verduidelik die simfoniese musiek, met lirieke, omhels die verskillende stadia en lewensfases van ‘n rivier wat ook simbolies van die vloei van die lewe met al sy kompleksiteite en uitdagings – vrede, vreugde, hartseer, verlies en meer – is. “Ek het intussen die komposisies voltooi en lirieke vir die verskillende liedjies geskryf. Die lirieke is in Afrikaans, Engels en Frans vertaal en die werk bestaan tans uit agt verskillende bewegings wat ek weldra sal uitbrei.” Hy is sy lewe lank geinspireer deur simfoniese werk en simfoniese rock soos Pink Floyd, Electric Light Orchestra en meer vertel hy. “Ek het altyd ʼn voorliefde gehad om simfoniese werk met kontemporêre werk te komponeer.” Die voltooide werk kan saam met ʼn simfonie orkes met of sonder ʼn rock orkes opgevoer word.
Die verskillende bewegings is as volg:
• Eerste Beweging – Ode aan Water
• Tweede Beweging – Lied aan Die Rivier
• Derde Beweging – Efemeer (Deel 1), Efemeer (Deel 2)
• Vierde Beweging – Die Droë Rivier van Sand
• Vyfde Beweging – Ek is Eensaam
• Sesde Beweging – Eerste Belofte van die Droom
• Sewende Beweging – Vir die vloei van Die Rivier
• Agtste Beweging – Volbring
Tydens die eerste twee bewegings speel die viool en fluit parte melodieë wat soos water klink wat vloei. “Daar heers vrede op aarde, die mens is vrolik. Daar is lewe, kos, voorspoed en vooruitsigte.” In die derde beweging stuur die werk en klank in ’n Noord – Afrika rigting in. “Oboe’s, cor anglais, klarinet en perkussie verras met `n Arabiese ondertoon. Dit raak ook meer intens aangesien die mens aangespreek word oor sy hebsug, hoogmoed en minag vir die aarde.” Tydens die vierdie beweging word die mens gestraf en God in sy toorn ontneem die mens van water. “Droogte, hongersnood en lyding heers nou op die aarde.” Die vyfde beweging beleef die mens totale eensaamheid. “Die ritme en gevoel is egter kontemporêr en vrolik.” Die sesde beweging verander die weer en die eerste belofte van die droom van reën en water word openbaar. Die sewende beweging bring weer hoop en die mens is vrolik en feesgety seëvier. “Die agtste beweging rond die werk af en soos in die woorde van Christus is dit nou “Volbring.”” Die Rivier Simfonie word op Woensdag 16 Julie deur die Johanesburg Jeugorkes met ondersteuning van die Mel Botes band uitgevoer. Eddie Clayton is die dirigent en Mel Botes (Storm Produksies) is die vervaardiger. Kaartjiespryse wissel van R250.00 P.P. (Gallery) tot blokbesprekings van ’n minimum van 10 kaartjies teen R1000.00 per persoon.
Vir meer inligting oor die vertoning besoek www.seatme.co.za